14/10/2026
'N BELANGRIKE LES VIR MY AS KUNSTENAAR EN KLEINSAKE-EIENAAR
Wanneer jy handgemaakte kuns verkoop, verkoop jy nie bloot 'n produk nie. Jy verkoop ure se werk, kreatiwiteit, materiaal, toewyding en jou goeie naam.
Daarom is die gehalte van die materiaal en produk waarmee jy werk so belangrik.
Ek het onlangs 'n baie teleurstellende ervaring gehad met houtitems wat ek vir my handgeverfde kunswerke aangekoop het. Nadat ek met die voorbereiding begin het, het krake by die laste, en oral oor die hout van verskeie items verskyn. Dit het my bekommerd gemaak oor die geskiktheid van die hout vir my werk en die gehalte van die finale produkte wat ek aan my eie kliënte lewer.
Ek het die probleem by die verskaffer aangemeld en probeer om 'n oplossing te bereik. Ons verskil egter oor die moontlike oorsaak van die krake en oor wat 'n aanvaarbare oplossing sou wees.
Wat hierdie ervaring vir my besonder moeilik maak, is die tyd, geld en arbeid wat reeds in die produkte belê is, asook die verantwoordelikheid wat ek teenoor my eie kliënte het.
As kunstenaar wil ek trots wees op elke produk wat my hande verlaat. Ek kan nie iets aan 'n kliënt lewer as ek nie tevrede is met die gehalte daarvan nie.
Hierdie ervaring het my weer laat besef hoe belangrik dit is om verskaffers versigtig te kies, produkte deeglik te ondersoek en probleme behoorlik te dokumenteer.
Klein besighede bou hulle reputasie met harde werk. Daarom verdien ons ook om met respek behandel te word wanneer ons 'n geldige kommer oor 'n produk opper.
Ek deel hierdie ervaring omdat ek glo dat ons as klein sakeondernemings openlik oor uitdagings kan praat, sonder om persoonlik te raak of mekaar af te breek.
Ek hoop om binnekort 'n betroubare nuwe verskaffer te vind sodat ek met vertroue kan voortgaan om my kuns te skep.
Straight from the heART. ❤️