Hannah Kook

Hannah Kook Kos soos skoonma Rita my leer maak het... I am totally passionate about my work and love interacting with clients...

Thank you for supporting my business.

A stay-at-home mom... Super excited about all the new opportunities...

I am married and I have two beautiful boys... Family is important to me and by working from home, I am able to spend more time with people who are important to me.

❤️ DIE GESKENK VAN GEEEk het vandag bietjie oor die verskillende liefdestale ged**k, en veral oor een wat vir my baie be...
26/08/2026

❤️ DIE GESKENK VAN GEE

Ek het vandag bietjie oor die verskillende liefdestale ged**k, en veral oor een wat vir my baie besonders is: om te gee.

Nie noodwendig om vir iemand ’n duur geskenk te koop nie.

Ek bedoel om eerder die soort gee wat sê:
“Ek het aan jou ged**k.”
“Ek sien jy het ’n behoefte.”
“Hoe kan ek help?”

Toe ek ’n kind was, onthou ek dat mense dit baie meer natuurlik gedoen het.

Wanneer iemand nuut in die buurt ingetrek het, het my ma altyd iets vir hulle gaan gee — iets vir aandete, of sommer net koffie, tee en iets om te eet terwyl hulle besig was om te trek.

Wanneer iemand siek was, het jy iets vir hulle geneem.

Wanneer iemand deur ’n moeilike tyd gegaan het, het mense gehelp waar hulle kon.

Miskien gebeur dit vandag nog baie. Ek weet daar is beslis mense wat steeds so leef.

Maar soms wonder ek of ons nie ’n bietjie van daardie eenvoudige manier van omgee vir mekaar verloor het nie.

Ek onthou toe ek nog in die laerskool was, een spesifieke aand toe ons in Grabouw gewoon het.

Daar was mense wat in die omgewing gekuier het en hulle motor het naby ons huis probleme gekry. Dit was ’n koue aand en hulle het uiteindelik by ons huis kom aanklop om hulp te vra.

My pa het die deur oopgemaak en ek kan nie meer presies onthou wat alles met die motor fout was of presies hoe hy hulle gehelp het nie.

Maar ek onthou my ma. Sy het vir hulle koffie gemaak en iets gegee om te eet.

Ek onthou ook dat hulle vertel het dat hulle van Robbeneiland af gekom het.

Ek was nog ’n kind, maar daardie aand het op een of ander manier in my geheue bly vassteek.

En toe, ’n week of twee later, kom hulle weer by ons huis aan.

Hierdie keer met ’n geskenk.

Hulle het vir ons van die mooiste krewe gebring om dankie te sê.

Hulle het vriendelikheid ontvang en wou iets teruggee.

Dit gaan nie oor die waarde nie.

Nie om boek te hou van wat jy gegee het en wat jy teruggekry het nie.

Net om te sê:
❤️ Ek het aan jou ged**k.
❤️ Ek wou jou help.
❤️ Ek wou jou ’n bietjie bederf.
❤️ Ek wou jou seën.

En daarom het ek vandag vir julle ’n klein uitdaging. 🍎

Ek deel vandag Ma Rita se Droom Appeltert met julle.

Dit is ’n baie eenvoudige appeltert wat my skoonma my geleer het om te maak. Dit os een van my man se gunsteling terte.

Dit is ook nie een of ander geheime, unieke resep van my nie — dit is ’n bekende Suid-Afrikaanse resep wat eenvoudig heerlik is.

Maar hier is ‘n uitdaging:

🍎 MAAK HOM DUBBEL!

Maak een vir jou eie gesin… en maak nog een vir iemand anders.

Vat dit vir ’n buurman of buurvrou.
Gee dit vir ’n vriend.
Vat dit vir iemand wat dalk deur ’n moeilike tyd gaan.
Of dalk vir iemand wat jy nie eens so goed ken nie.

Jy weet nooit wat ’n klein gebaar vir iemand kan beteken nie.

As jy dit gedoen het, sal jy ons dalk kom vertel?
Vir wie het jy jou tweede tert gegee?
Wat was hulle reaksie?

Miskien kan ons weer ’n bietjie van daardie ou manier van gee terugbring.

Want soms dra die eenvoudigste dinge die grootste boodskap:
“Ek het aan jou ged**k.”
“Jy is vir my belangrik.”
“Ek wou jou net ’n bietjie seën.”

So… wie maak vandag twee? ❤️🍎



🍎 Ma Rita se Droom Appeltert

Bestanddele:
* 1 blik tert appels
* 1 koppie koekmeel
* 1 koppie witsuiker
* 4 eetlepels botter
* 2 teelepels bakpoeier
* Knippie sout
* 3 eiers
* 65 ml melk

Metode:
Meng alles saam en bak teen 180 grade vir so 30 minute.

Ek het met ’n mes gevoel of hy gaar was, en dit was perfek!

🍯 Sous:
* 1 blik Idealmelk
* ’n Halwe koppie suiker
* 1 teelepel vanilla essens

Verhit die sous en gooi dit dadelik oor die tert.

❤️ En onthou… as jy dit bak, maak sommer twee. Een vir jou en een om weg te gee...

Want ’n bietjie liefde wat gedeel word, word nooit minder nie. ❤️🍎

🥧 Ek wil vandag graag my eenvoudige, bekostigbare hoenderpastei resep met julle deel.Ons is steeds in Hermanus en huur t...
25/08/2026

🥧 Ek wil vandag graag my eenvoudige, bekostigbare hoenderpastei resep met julle deel.

Ons is steeds in Hermanus en huur tans ’n klein gaste-selfsorg eenheid - dis ’n baie oulike tweeslaapkamer-eenheid, en ons maak die beste van ons tyd hier.

Die vrou van die huis se ma is egter baie siek. Sy is alreeds 94 jaar oud en sy versorg haar - vandag het ek besluit om vir hulle ’n hoenderpastei te maak.
My man het intussen ook ’n baie slegte migraine-aanval gekry en voel glad nie lekker nie, so ek het vir ons net ’n paar kleiner pasteitjies gemaak — ietsie eenvoudig wat ek en my 6-jarige seun kan geniet.

Maar kom ek deel die resep, want hierdie is regtig een van daardie eenvoudige, bekostigbare pasteie wat heerlik is en glad nie moeilik is om te maak nie.

Wat jy benodig:
* Hoender (ek gebruik altyd slegs filette, maar jy kan hoender of 'n heel hoender gebruik)
*Sampioene
*Ui
*Skilferkors deeg (ek het vandag Today se produk gekoop)
*Pakkie soppoeier
*Speserye om hoender te geur (ek het vandag Robertsons se Hoender speserye gebruik)
*Hoender aftreksel blokkie

Ek begin deur die hoenderfilette af te spoel, droog te druk en goed met hoenderspeserye te geur.

Dan plaas ek dit in ’n pot met water en ’n hoenderaftrekselblokkie en kook dit totdat die hoender regtig sag is — so sag dat ek dit maklik uitmekaar kan trek.
Ek trek die hoender uitmekaar en laat dit verder in die aftreksel kook, sodat die geur mooi ontwikkel en die vloeistof begin verminder.

Ek skep so 'n sop lepel van die vloeistof uit en laat dit eers afkoel. Wanneer dit koud is, roer ek ongeveer 1 eetlepel soppoeier daarby om die sous effens te verdik.
Jy kan eintlik gebruik wat jy in jou kas het — hoendersop, sampioensop of wit uiesop werk almal lekker.

Intussen braai ek my sampioene en ui in ’n pan. Ek gebruik geen olie nie en voeg sommer van die geurige hoenderaftreksel by om die sampioene en ui in gaar te maak.

Wanneer alles gaar is, meng ek die hoender, sampioene, ui en sous saam.

Ek laat die hoendervulsel goed afkoel.

Nou bou ek die pastei...

Ek het hier ’n oulike klein emaljeskottel in die kombuis gekry wat perfek in die lugbraaier pas.

Ek sny ’n ronde stuk skilferkorsdeeg en voer die skottel daarmee uit.

Sodra die hoendervulsel heeltemal koud is, skep ek dit binne-in die deeg.

Dan vou ek die deeg bo-oor die vulsel en knyp dit sommer in die lengte toe. Geen perfekte pastei nodig nie — dis mos ’n tuisgemaakte pastei. ❤️

Ek verf die bokant met geklitste eier en sit dit in die lugbraaier teen:
165°C vir ongeveer 16 minute.

En daar het jy dit.

’n Goue, bros, eenvoudige hoenderpastei — gemaak met baie min moeite en met bestanddele wat jy waarskynlik reeds in jou kombuis het.

En natuurlik het ek ook ’n paar kleiner pasteitjies vir ons gemaak.

Want soms is ’n warm, tuisgemaakte pastei al wat jy nodig het. 🥧❤️

Dit is ’n pragtige dag by ons.  Die son skyn, daar waai skaars ’n windjie, en dit herinner my daaraan dat die somer dare...
25/08/2026

Dit is ’n pragtige dag by ons. Die son skyn, daar waai skaars ’n windjie, en dit herinner my daaraan dat die somer darem nou nie meer so ver is nie. ☀️

En soos ons nader aan die warmer dae beweeg, begin ’n mens sommer weer aan slaaie d**k - aan naweke en kuiers en lekker braai's saam met familie en vriende, en daardie vraag: “Wat neem ons saam braai toe?”

Een van my gunsteling slaaie om te maak wanneer ons na ’n braai genooi word, is ’n lekker tradisionele Kerrie-Noedelslaai.

En dit is ook my man se gunsteling! 😂 So, as ek hom vra watter slaai ons moet saamvat, is sy antwoord ALTYD: “Kerrie-noedelslaai!”

So vandag deel ek sommer weer die resep met julle. 🥗

Hier is wat jy nodig het:

* 1 pakkie noedels - maak gaar volgens instruksie op die pakkie.
Ek het vandag spiraal-noedels gebruik, maar jy kan enige soort gebruik waarvan jy hou.

Net 'n wenk: Moenie jou pasta te gaar kook nie. Dit moet net gaar wees, want jy gaan dit later nog met die sous meng en jy wil nie hê dit moet te pap en "mushy" word nie.

🫑1 soetrissie: Groen, geel of rooi — sny dit in klein blokkies.
🧅 1 ui, fyn gekap

Vir die sous:
🍅 250 ml tamatiesous
🫒 125 ml kookolie
🥣 125 ml asyn
🍬 200 ml suiker
🌶️ 30 ml kerriepoeier
✨ ’n Klein bietjie borrie, vir daardie mooi geel kleur
Opsioneel: 'n paar druppels Tabasco sous (volgens smaak - voeg ook heel laaste by wanneer slaai koud is)

Ek voeg sout by wanneer ek my pasta kook, en dit is gewoonlik genoeg vir my.
Jy kan natuurlik sout en peper volgens jou eie smaak byvoeg.

Hierdie is wat ek doen:
Ek maak my sous gaar... Kom ek verduidelik:
Ek gebruik sommer 25 ml van die olie (uit bogenoemde olie kwota) om my ui en soetrissie liggies in ’n pan te braai totdat dit net begin sag word.
Dan voeg ek die res van my sousbestanddele by — die tamatiesous, olie, asyn, suiker, kerriepoeier en ’n bietjie borrie.
Ek bring die sous tot kookpunt en verwyder dit van die plaat en laat dit dan afkoel.

Wanneer alles heeltemal koud is, meng ek die pasta en die sous saam. Die Tabasco druppels voeg ek ook eers by as die slaai afgekoel is en ek alles meng.

En hier is die ander geheim: Ek maak hierdie slaai altyd ’n dag voor die tyd. 😋

Ek sit dit oornag in die yskas sodat al die geure lekker kan ontwikkel.

Die volgende dag, wanneer ons reg is om te braai of te kuier, maak ek ’n blikkie geelperskes oop, sny die perskes op en meng dit by die slaai.

En daar het jy dit — ’n heerlike, tradisionele Kerrie-Noedelslaai wat perfek is vir ’n braai, ’n kuier of sommer ’n lekker familie-ete. ☀️🥗

Naskrif: En nou moet ek darem iets met julle deel… 😊
Ek weet nie van julle nie, maar ek het al baie keer ’n slaai in ’n glasbak gemaak, toegemaak met kleefplastiek, en dan hoop ek maar net die bak bly regop in die motor en niks gebeur langs die pad oppad na ons kuier nie! 😂
Ek is dus altyd op soek na ’n lekker groot bak met ’n goeie, styfpassende deksel wat ’n slaai veilig kan hou wanneer ons dit moet vervoer.
En ek d**k ek het nou een gekry! 💙
Tupperware het tans hierdie 4L 'Modular Bowl', en ek d**k dit is net perfek vir ’n slaai soos hierdie — lekker groot, prakties en met ’n deksel wat mooi pas.

As jy belangstel in so 'n bak, stuur vir my gerus ’n WhatsApp-boodskap. 😊
PS. die bak is ook perfek as 'n mengbak, werk goed om jou brood deeg in te laat rys en dan ook as ons met vakansie is, pak ek hom vol pakkies peuselhappies vir die lang pad...

Vrydagaande eet ons gewoonlik wegneem etes of enige ander ete wat lekker maklik is! 😋Vanaand het ek hierdie heerlike hoe...
21/08/2026

Vrydagaande eet ons gewoonlik wegneem etes of enige ander ete wat lekker maklik is! 😋

Vanaand het ek hierdie heerlike hoender met aartappels en kool in die lugbraaier gemaak, en eerlikwaar… dit was heerlik!

En dit is ook ’n heerlike begrotingsvriendelike ete.

Hier is wat ek gedoen het:

🥔 Ek het 2 aartappels geskil en in klein blokkies gesny.

Ek het ’n bietjie olyfolie onder in my lugbraaier gesit, die aartappels bygevoeg en dit teen 200°C vir ongeveer 8 minute gebak.

🥬 Daarna het ek gesnyde kool bo-op die aartappels gesit en alles volgens ons smaak met speserye gegeur.

Ek het ook 1 hoenderaftrekselblokkie in ½ koppie kookwater opgelos en dit oor alles gegooi.

🍗 Toe het ek die hoender-stukke bo-op gesit en alles weer teen 200°C vir nog 20 minute in die lugbraaier gebak.

Elke 5 minute of so het ek alles lekker omgeroer sodat die aartappels en kool mooi kon verbruin en al die geure kon meng.

En die resultaat? Absoluut heerlik! ❤️

Eenvoudige bestanddele, min moeite, relatief goedkoop en na my mening, ’n lekker voedsame ete.

Soms is die eenvoudigste etes regtig die lekkerste! 😍

PS. Hier het ek alreeds paar happies geneem en toe eers die foto geneem. Volgende keer sal ek ‘n mooier foto neem…

’n Kort wegbreek-naweek Hermanus toe-  my geliefkoosde kus-dorp! ❤️🌊Soms is dit net nodig om vir ’n dag of twee ’n bietj...
16/08/2026

’n Kort wegbreek-naweek Hermanus toe- my geliefkoosde kus-dorp! ❤️🌊

Soms is dit net nodig om vir ’n dag of twee ’n bietjie weg te breek van ons elke-dag roetines, om asem te skep, iets anders te doen, onself ’n bietjie te bederf en, die belangrikste van alles, tyd saam met jou gesin deur te bring.

Ons het hierdie naweek presies dit gedoen – ons het Hermanus toe gekom en sommer net rustig gekuier. Ons het geen groot planne gehad nie… ons het gaan stap, geëet, gelag, lekker gesels en ons saam-wees geniet.

Gister was dit ’n windstil, sonnige wintersdag – amper te mooi om te glo dis winter. Ons eerste stop was by Oskars Delikatessen vir ’n lekker cappuccino en een van my gunstelinge: hulle ‘potato cup’. 😋 Ek het ’n foto geneem, want ek gaan beslis probeer om my eie weergawe daarvan te maak wanneer ons terug is by die huis. Ek sal dan natuurlik my resep met julle deel!

Later die aand was dit tyd vir iets waarna ek al lank uitsien: regte vis en skyfies, soos mens dit net by die see in papier kry! 🐟🍟

Toe ons in Gauteng gebly het, kon ons dit nêrens kry soos hier by die see nie, en ek het dit al vir meer as ’n jaar nie geëet nie. So ja… ek was BAIE opgewonde! 😂

Manlief het snoek gekies en ek het stokvis geniet – en dit was net so lekker soos wat ek gehoop het.

En toe was daar ook een van daardie klein oomblikke wat vir ’n mamma baie meer beteken as wat ’n mens kan verduidelik.

My man en ons sesjarige het gaan stap. Ons klein mannetjie het skulpe opgetel en ’n paar blommetjies gepluk en vir my ’n klein skulp -tuintjie op my bedkassie gemaak. 🐚🌸

Ek het ongelukkig die foto ’n bietjie laat geneem en die blommetjies het al begin verleë lyk omdat hulle nie water gehad het nie… maar weet julle wat?
Vir hierdie mamma was dit steeds pragtig. ❤️

Vanoggend het ons weer strand toe gegaan. Ons sesjarige het, ten spyte van die koue en die feit dat dit die middel van die winter is, besluit hy kort ’n klein netjie om vissies te vang! 😂🐟
Hy het ‘n maatjie op die strand ontmoet en die twee het gehardloop, gespeel en hulself gate uit geniet.

En ons grootmense? Ons het coney rolletjies met kouevleis en ’n lekker koue Coke gedeel. Nie juis die gesondste ete nie… maar soms mag ’n mens mos net die oomblik geniet! 😉

Nou is ons terug by ons gaste-eenheid. Ons het ’n klein vuurtjie in die kaggel aangesteek en sit sommer net rustig en kuier en gesels.

En terwyl ek hier sit en terugd**k aan die afgelope twee dae, besef ek weer:
Ons jaag so maklik deur die lewe.

Maar soms moet ’n mens net ’n bietjie stilhou.

Gaan stap op die strand.
Drink saam koffie.
Eet vis en skyfies.
Laat jou kind met ’n visnet en in sy swemklere rondloop in die winter. 😂
Bewaar ’n paar skulpe.
Aanvaar ’n handgemaakte blommetuintjie, selfs al is die blommetjies al bietjie verlep.
Sit voor ’n warm vuur.
En wees net saam met die mense vir wie jy lief is.

Want op die ou end is dit dikwels die klein, eenvoudige oomblikke wat die mooiste herinneringe word. ❤️

Hannah Kook
Kos, familie, die lewe – en al die klein lekker dinge tussenin. 🌿

Gistermiddag het ons sommer lus gekry vir ietsie lekkers saam met ons tee. ☕️❤️Ek het besluit om my maklike mayonnaise-s...
12/08/2026

Gistermiddag het ons sommer lus gekry vir ietsie lekkers saam met ons tee. ☕️❤️

Ek het besluit om my maklike mayonnaise-scones te bak! 😍

Ek is mal oor hierdie resep, want dit is so eenvoudig en vinnig, met bestanddele wat ’n mens gewoonlik reeds in die kombuis het. Geen moeite of ingewikkelde stappe nie — meng, bak en geniet! 🥰

Ek deel graag die resep met julle — want soms is dit juis die eenvoudigste resepte wat ’n mens oor en oor maak. 😋

Jy benodig:
2 koppies koekmeel
2 teelepels bakpoeier
4 eetlepels mayonaise
1 koppie melk
1 teelepel suiker
Knippie sout

Nou is dit regtig maklik:
Meng alles saam.
Skep in ‘n gesmeerde muffin pan.

Bak 180 grade Celsuis vir ongeveer 15 min of tot goud bruin.

Daar is net iets besonders aan varsgebakte scones, nog warm uit die oond, saam met ’n lekker koppie tee. Veral op ’n koue middag… dis sommer pure huislikheid! ❤️

En die lekkerste van alles? Jy hoef glad nie ure in die kombuis te staan om iets heerliks te maak nie.

Probeer dit gerus en laat weet my hoe julle daarvan gehou het! 🌸

PS. Ek maak dit ook gereeld vir my kinders se kosblikke vir skool! Hulle is mal daaroor!
Al wat ek anders doen: meng eers droë bestandele. Sny 2-3 weense worsie op en meng by droë bestandele… voeg ook 1 koppie kaas by. Ek laat ook dan die suiker weg. Meng nou nat bestandele by, bak en hulle is reg vir skool! ✏️🚌

Vandag is weer een van DAARDIE dae... ek d**k ver terug... Mis so my skoonma... Sy het my leer kos maak... sjoe, ek het ...
11/08/2026

Vandag is weer een van DAARDIE dae... ek d**k ver terug... Mis so my skoonma... Sy het my leer kos maak... sjoe, ek het so baie by haar geleer. Ek sal wat wil gee vir nog 'n lekker kombuis-kuier met ma Rita terwyl ons potte prut!

Soms het ek en sy net vir mekaar ''n kyk gegee', dan weet ek... ma Rita wou ietsie 'skelms' doen...

Partymaal is ons "mans" mos bietjie vol fiemies en dan word ons 'gedwing' om so 'n bietjie "skelm" dinge te doen... 😀
Bv. Oats in die frikkadelle om dit stywer te maak - ek d**k manlief sterf 10 dode as hy dit moet agterkom... of 'n weetbix by herderspastei om die maalvleis bietjie te rek...

Nou wonder ek sommer... is ek die enigste een wat so 'n paar skelm-wegkruip dingetjies in die kombuis doen?
Nog 'n voorbeeld, my man eet nie kos wat gevries was en weer ontdooi word nie... soms toor ek so 'n ietsie vinnig... as hy maar net weet! 😉

Vertel bietjie jou "skelm" geheimpie om manlief te "flous"... of dalk is daar 'n paar om jou kinders te "flous"....

Party van julle ken my deur Haplief, en ek is ongelooflik dankbaar vir alles wat daardie hoofstuk in my lewe vir my gebr...
10/08/2026

Party van julle ken my deur Haplief, en ek is ongelooflik dankbaar vir alles wat daardie hoofstuk in my lewe vir my gebring het.

Maar Haplief is oorspronklik rondom kos wat te koop was, geskep — en dit is nie meer wat ek doen nie.

Lank voor Haplief was daar Hannah Kook. 👩‍🍳❤️

En die afgelope tyd het ek besluit … miskien is dit tyd om terug te gaan na waar dit alles begin het.

So, van nou af sal julle my hier as Hannah Kook vind.

Dieselfde ek. Dieselfde liefde vir kosmaak, bak en om dinge met julle te deel. Net ’n naam wat ’n bietjie meer persoonlik voel en ’n bietjie meer soos huis. 🏡❤️

Baie dankie dat julle hier is en saam met my deur al die verskillende hoofstukke stap.

Welkom by Hannah Kook. 🥰

🥶 DIS WAS GISTER YSKOUD IN STELLENBOSCH! ❄️Wanneer dit so koud is in die Kaap, sê ons altyd vir mekaar: “Daar moet verse...
10/08/2026

🥶 DIS WAS GISTER YSKOUD IN STELLENBOSCH! ❄️

Wanneer dit so koud is in die Kaap, sê ons altyd vir mekaar: “Daar moet verseker êrens sneeu op die berge wees!” 😂 En dit is presies wat ons gister gesê het — daar móét sneeu op die berge wees!

Gister het ek lekker Sondag-kos gemaak: Lamsblad met aartappeltjies, uie en wortels en heerlike kaneelsuiker pampoenkoekies . 🥘

Dit was eintlik die eerste keer wat ek self ’n lamsblad gaar gemaak het, en ek moet sê… dit het regtig lekker uitgekom! Dit was sappig en ongelooflik lekker. 😋

Ek het ongelukkig vergeet om ’n foto van die gaar lamsblad te neem! 🤦‍♀️ Die enigste foto wat ek het, is van die lamsblad in die pot voordat ek dit begin gaarmaak het — nadat ek al my speserye bygesit het. So, daardie foto gaan nie juis wys hoe mooi dit uiteindelik gelyk het nie. 😂

Maar sodra ons in ons nuwe huis is, gaan ek beslis weer ’n lamsblad maak, die stappe mooi afneem en vir julle wys hoe ek dit gedoen het.

Maar toe maak ek iets vir nagereg waarvan ek WÉL ’n foto geneem het! ❤️

🍮 TRADISIONELE SUID-AFRIKAANSE SOUSKLUITJIES!

Hierdie is een van daardie nageregte wat jy sommer vinnig kan maak, waarvoor jy waarskynlik reeds alles in jou kombuis het.

Dit is maklik, goedkoop, heerlik en perfek vir ’n koue wintersdag. 🥰

Almal het dit geniet!

Hier is die resep wat ek gebruik — probeer dit gerus self. Dit is regtig eenvoudig.

🍯 Eers maak ons die suikerstroop:
• 2 koppies water
• 1 koppie suiker
• 2 eetlepels botter
• 1 teelepel kaneel
• ’n Knippie sout

Ek sit dit gewoonlik op lae hitte op die stoof sodat dit stadig kan begin warm word en die suiker kan smelt.

🥣 Volgende maak ek die kluitjies:
• 1 koppie koekmeel
• 2 teelepels bakpoeier
• ’n Knippie sout
• 1 eetlepel botter
• ½ koppie melk

Meng alles saam tot jy ’n sagte, effens klam deeg het.

Die deeg moet glad nie styf en droog wees nie. Dit moet eerder ’n bietjie klam en sag wees. As jy voel dit is te droog, kan jy gerus ’n klein bietjie ekstra melk byvoeg.

Sodra my kluitjiedeeg klaar is, draai ek die hitte van die suiker stroop effens op totdat die stroop begin prut.

Hierdie resep maak genoeg vir ongeveer 3-4 persone.

Ek het gister vir sewe mense gemaak, so ek het die resep verdubbel — en daar was slegs drie kluitjies oor wat die kinders later vir aandete geëet het! 😂

👩‍🍳 SO MAAK JY DIT:
Wanneer jou suikerstroop begin prut, skep jy lepeltjies van die kluitjiedeeg in die stroop.

Sit nou dadelik die deksel op!
En nou is daar ’n baie belangrike reël:
🚨 MOENIE DIE DEKSEL VIR ten minste 20 MINUTE OOPMAAK NIE! 🚨

Dit is belangrik, want as jy die deksel oopmaak terwyl die kluitjies besig is om gaar te word, gaan hulle nie mooi uitrys nie.

Ek draai die hitte dan af na laag — net genoeg dat die stroop saggies prut, met hier en daar ’n klein borreltjie.

Gister was ek gelukkig om in die kombuis hier op die plaas ’n pot met ’n glasdeksel te hê, so ek kon darem sien hoe dit kook en die hitte ’n bietjie verstel as dit te sterk begin borrel.

Maar as jou pot nie ’n glasdeksel het nie, moenie bekommerd wees nie. Wanneer die stroop eenmaal begin kook en jy die lepels deeg ingesit het, draai jy jou plaat sommer laag — ongeveer nommer 2 — en los dit vir ten minste 20 minute SONDER OM DIE DEKSEL OOP TE MAAK.

Gister het ek dit selfs langer in die pot gelos terwyl ons geëet het.

Ná ete het ek die deksel oopgemaak en die kluitjies net ’n bietjie omgedraai sodat almal lekker met die stroop bedek was.

Toe sit ek sommer die hele pot net so op die tafel.

En mense… DIT WAS HEERLIK! 😍

Sag, warm, kaneelagtig en vol daardie lekker outydse Suid-Afrikaanse nostalgie. ❤️

So, met hierdie koue weer wat ons nou beleef:

Gaan maak vir julle ook tradisionele kaneelkluitjies. 🥰

Dis maklik, dis goedkoop, dis heerlik — en die beste van alles:

Jy het waarskynlik reeds alles in jou kas! ❤️

Laat weet my as julle dit probeer het. Ek sal graag wil weet of julle dit net so geniet het soos ons het.

Liefde uit Haplief se kombuis ❤️

Dit was bietjie stil hier die afgelope tyd.Die laaste paar maande was vol veranderinge, nuwe uitdagings en baie opwindin...
31/07/2026

Dit was bietjie stil hier die afgelope tyd.

Die laaste paar maande was vol veranderinge, nuwe uitdagings en baie opwinding. Ons is tans tussen seisoene – halfpad met ons trek na ons nuwe huis in Augustus. Intussen kuier ons eers by goeie vriende op ’n plaas, en ek geniet elke oomblik van die plaaslewe, die rustigheid en die kans om asem te skep.

Hierdie plaas en die mense hier is egter baie meer as net ’n tydelike tuiste. Hulle is al deel van my lewe sedert 1990. Hier het lewenslange vriendskappe ontstaan, herinneringe gemaak en lesse geleer wat ek vandag nog koester.

Die boervrou van die plaas, vandag byna al 90 jaar oud, was nog altyd soos ’n ma vir my. Ek het deur die jare soveel by haar geleer – nie net oor kosmaak en bak nie, maar ook oor gasvryheid, etiket, eenvoud en die kuns om mense om ’n tafel bymekaar te bring.

Dit is vir my ’n besondere voorreg om in hierdie seisoen weer tyd saam met haar deur te bring. Haar gesondheid het oor die laaste paar maande verander, en vandag is die gesprekke min, maar die liefde en herinneringe bly.

Om stil langs haar te sit, haar hande te vashou, room aan haar hande te smeer en net saam teenwoordig te wees, is kosbaar en 'n wonderlike voorreg. Dit herinner my aan soveel goeie dae, gedeelde etes, lesse uit haar kombuis en die besondere rol wat sy en haar gesin deur die jare in my lewe gespeel het.

Sommige mense raak deel van jou storie op ’n manier wat tyd nooit kan wegneem nie, en sy is beslis een van daardie mense.

Oor die volgende paar dae en weke wil ek graag van die tradisionele resepte, plaasgeregte en kosherinneringe wat ek hier leer ken het, met julle deel.

Dankie aan elkeen wat steeds deel is van Haplief. Ek sien uit daarna om weer saam met julle te kuier. 🍽️

Haplief-groete 🩷

Address

Pretoria

Telephone

+27661173820

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Hannah Kook posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Shortcuts

Share